Afrikaans (en tweetaligheid) in Australië

Afrikaans (en tweetaligheid) in Australië

Oop kaarte: dit is vir my 'n vreemde gedagte dat my Australies-gebore eenjarige nou Engelse en Afrikaanse woordjies aanleer (dankie, Aussie grootouers!). Dit is vir my ook werklik moeilik dat my ouers nie in Australië kan wees nie (dankie Covid).

Ek staan party dae verstom oor hoor hoe mooi die kindertjies met Sjinese, Indiese, Viëtnamese en ander internasionale erfenis met hul ouers of grootouers in ons plaaslike parkie gesels. Vlot - in 'n taal anders as Engels.

In my hart wens ek so my kinders kan (en wil!) eendag steeds vlot Afrikaans praat met my, my man ('n Aussie wat Afrikaans aangeleer het), die grootouers/ooms/tannies/vriendekring in Suid-Afrika, asook die wyer Afrikaanse gemeenskap hier in Australië.

Ek kom wel agter dat ek my verwagtinge 'n bietjie gaan moet bestuur. Ja, ons kinders gaan waarskynlik verkies om met maatjies Engels te praat. En dis perfekte voorbereiding vir 'n Engelssprekende skool (en later werkplek, vriendekring en dies meer)! 

Maar dit is darem so fantasties dat ons in 'n multikulturele samelewing woon, waar dit normaal is om 'n taal buiten Engels te kan praat. Dis dan deel van 'n mens se kulturele erfenis en gesinsidentiteit!

So ons doen wat ons kan om Afrikaans hier in ons huis te koester. Ons lees Afrikaanse boekies dat dit klap! Ons sing liedjies, gesels en speel in Afrikaans. Ons voer videogesprekke met almal in Suid-Afrika. Ons ondersteun sport in Afrikaans.

Afrikaans is 'n briljante, kleurvolle, raaksê taal. Dis 'n besigheidstaal, 'n vloektaal, 'n liefdestaal, 'n kook-taal, dié rugbytaal, 'n taal vir speel, bid en leer. So ek wil my deel doen om Afrikaans ook in die buiteland te bevorder.

So ek doen ook wat ek kan vir die wyer gemeenskap:

  • Ondersteun Suid-Afrikaanse besighede met Afrikaanse pdf-leermateriaal. (Laat weet as julle aanbevelings wil hê, dan deel ek dit in 'n volgende artikel).
  • Voer Afrikaanse boeke in vir ander gesinne om op te koop en geniet hier by Boekwurm. 
  • Stel nuwe leermateriaal rondom ons taal en kultuur saam, en deel dit op @boekwurm.com.au se Instagram-blad.
  • Probeer om Afrikaanse Storietyd en speelgroepies te reël (vir eers net aanlyn via Boekwurm se Facebook-blad tydens Covid).

Help my asseblief om aan te hou hiermee. Praat saam in die kommentaar op "blog" en sosiale media plasings. Vertel mense van Boekwurm en @afrikinners. Teken in op ons nuusbrief. Koop 'n boek vir 'n maatjie.

Ons is almal in dieselfde bootjie. Maar soos die spreekwoord sê - niks wat werklik kosbaar is, is ooit maklik om te bekom nie. Dit kos 'n bietjie moeite, of samewerking. Dalk - net dalk - kan ons almal saamwerk om voort te bou aan die volgende generasie se identiteit as deel van 'n wyer Afrikaanse gemeenskap hier in Australië.

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment