Die "fusion"-effek

Die "fusion"-effek

Elke dag bring verrassings. Ons lewensmaats, ons kinders, ons omgewing (en selfs ons eie breine) vang ons gereeld onkant met die interessantste idees!

Vat nou-die-dag toe my Aussie-man hard begin beplan het aan wat ons kan saamneem na ons eerste "post-lockdown" kuier by sy kollega se huis. Ons moet nagereg vat. Maar dit móét iets spesiaal wees.

Ek maak voorstelle. Wat van ons groot treffer, die Amarula-malvapoeding? Of 'n sjokoladevulkaankoek?

Nee, sê hy. Ek het gedink aan 'n melktert. (Maar nie net melktert nie. Melktert met 'n soetsuur bessie-compôte.)

Nou maar goed dan! Dis beslis 'n unieke manier om 'n klassieke Suid-Afrikaanse staatmaker op te kikker! Maar het dié staatmaker opkikker nodig?

Wel, lang storie kort - dit was 'n massiewe sukses.

Ons melktertresep se effense té soet is perfek getemper danksy die nommerpas bessie-en-sitrus wondermengsel wat my man daar op die stoof opgetower het. Die balans was net reg.

En dit is die wonder van die lewe. 'n Mens kan vasklou aan wat bekend is. 'n Mens kan 'n gemaksone, 'n nessie van die gerieflike en tradisionele 'doen en late' om jou bou. Of jy kan toelaat dat daar vernuwing en verandering plaasvind. 'n Bietjie losmaak van vooropgestelde idees en verwagtinge. 

Om in 'n nuwe samelewing te woon, is anders as ons tuisland. Om in 'n huwelik, of gesinsopset te wees, is ook baie anders as wat dit was toe ons in ons eie ouerhuise grootgeword het. Ons moet aanpas.

Maar hierdie "anders" is 'n geleentheid om te groei, en om ons eie ding te doen. Om ons eie tradisies te bou. Om ons eie reëls te maak. Om kosbare herinneringe te bou en vars gesinsrituele te vestig.

Praat saam! Watter nuwe gesinstradisies het julle al gevestig vandat julle in Australië woon?

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment