In die lockdown-wasmasjien

In die lockdown-wasmasjien

ROMEINE 15:13 NLV
Ek bid dat dié God wat aan ons ’n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.


Waar jy ookal vandag in die wêreld mag wees - in jou huis of buite; in jou geboorteland of iewers ver oorsee - hoop ek jy het 'n mooi toekomsverwagting in jou hart.

Ek hoop dat elke nuwe dag vir jou soos 'n nuwe avontuur is om aan te pak.

Ek hoop dat jy blydskap en vrede beleef.

Persoonlik moet ek erken, in ons huidige ingeperkte stukkie wêreld die afgelope 101 dae, voel dit party dae of ons in 'n herhalende wasmasjiensiklus roetine is - dieselfde dingetjies en take, alles in dieselfde spasie.

Waar pas verwagting dan in by die 100% voorspelbare?

Opstaan.
Gou almal aantrek.
Mense kos gee...wasgoed.
Huis (en kantoor) regpak.
Werk.
Mense kos gee.
Middag uitstappie parkie toe. Werk.
Mense kos gee.
Mense bad en in die bed sit. Werk/ besigheid.
Slaap.
Spoel. Herhaal.

Klink dit bekend?
Waar is die avontuur?

Dis maklik om mismoedig, rusteloos of onvergenoegd te raak in tye wat ons nie voel ons is in beheer, of vry, of besig om ons horisonne te verbreed nie.

Maar daar is steeds spasie vir verwagting, blydskap en vrede.

Vir my is dit:

♡ Om van naderby te sien hoe my seuntjie elke middag in die parkie op nuwe maniere speel, waag en ander mense benader.

♡ Om tyd te hê om in ons huwelik en kommunikasie te belê (want al wat ons het, is tyd!) en om ons toekomsverwagtinge met mekaar te deel.

♡ Om te kan droom en beplan aan ons reise eersdaags wanneer ons wêreldjie weer oopgaan - moontlik eers tandarts toe, vriende toe, dan see toe, kerk toe en dan (as die grense oopmaak) om Oupa en Ouma te gaan ontmoet in Suid-Afrika.

♡ Om te besef my lysie van 1000 dinge wat ék sou kon doen, is nie so belangrik soos die een betekenisvolle ding wat óns nou saam doen nie.

Dis party dae moeilik om verby die herhalende wasmasjiensiklus te dink, maar ek is baie dankbaar dat my wasmasjien mooi werk en dat my geloof, my God en my gesin elke dag saam met my in die wasmasjien kan ronddraai.

My gebed is dat jy ook dié blydskap en vrede en hoop vandag sal beleef.

Liefde, Jeannie

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment