Is jy OK? Is hy/sy OK?

Is jy OK? Is hy/sy OK?

JESAJA 43:2
Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie.

Om 'n grootmens te wees, is nie grappies nie. Die moderne lewe is 'n deurmekaar en verwarrende plek.

Gooi daarby saam dinge soos 'n nuwe begin in 'n nuwe land.

Die verwarring wat gepaard gaan met Covid en 'n meer "alleen"/ "eenkant" leefstyl.

Kindertjies aan wie ons 24/7 liefde, geduld, tyd, aandag, selfvertroue en sekerheid gee (al is ons self onseker).

Miskien die gemis van vriende, familie en net die bekende. Of onsekerheid oor dinge soos finansies en druk by die werk.

Dit vat aan 'n mens! En dis soveel erger - dit bou op - as dit in 'n mens se kop rondmaal.

Dit is OK om nie altyd OK te wees nie. Niemand waarvan ek weet het dit altyd alles "bymekaar" nie.

Diep waters is moeilik. Die versie sê nie "AS jy deur diep water gaan..." nie, dit sê WANNEER.

Moet net asseblief nie ooit dink jy hoef die kommer/ gevoelens alleen te dra nie.

Tel die foon op. Stuur 'n DM. As jy kan, gaan geniet vars lug. Pluk 'n blom. Soek die mooi.

Iewers is iemand anders dalk net gereed en geïnspireer met iets moois wat hulle net brand om te deel - 'n boodskap van hoop of bemoediging.

Die belangrikste - juis wanneer jy in die gat wil gaan sit - doen wat jy moet doen om jou te omring met jou "cheerleaders" wat jou kan aanspoor tot by die volgende mylpaal.

Ons is nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie. Ons is soms dalk fisies afgesonder, maar ons kan praat. Ons kan vir mekaar bid. Ons kan op mekaar incheck.

Maskers op ons gesigte is een ding, maar om ons gevoelens te masker, is gevaarlik.

Is jy OK? Is jou vriend(in) OK? Regtig OK?

Vir hulpmiddels rondom hoe om 'n "is jy OK?"- gesprek met iemand anders te begin, is www.ruok.org.au 'n fantastiese beginpunt.

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment