
Kan ‘n Australiër Afrikaans leer?
Jeanne van ZylShare
Kan ‘n Australiër Afrikaans leer? Beslis! En dis soveel makliker wanneer daardie Aussie wíl leer, en tyd rondom Afrikaanssprekendes spandeer.
Kom ons sê jou tienerkind, of -kleinkind, of selfs 'n vriend of kêrel, vra jou op 'n dag - "Ek wil Afrikaans leer!". Hoe gemaak? Waar begin jy?
Dis in my ervaring dikwels makliker om 'n toegewyde volwassene te begelei op die leerreis, as wat dit is om 'n ongefokusde kleuter te onderrig. Vir kleintjies moet jy as ouer ongelooflik gedissiplineer en konsekwent wees, maar geïnteresseerde volwassenes bring hul eie dryfkrag en dissipline!
In hierdie artikel wys ek jou die voordele daarin wanneer iemand as volwassene Afrikaans leer. Ek deel ook ‘n paar praktiese strategieë wat ek oor die jare saam met my volwasse Afrikaanse leerders ontdek het.
Voordeel 1 - Hulle het toegang tot tegnologie!
Blootstelling is ALLES wanneer dit kom by ‘n nuwe taal. Jy wil die taal in konteks aanleer. Daar is só baie hulpmiddels beskikbaar om die aanleer van 'n taal te help!
My Australiese man, Kieran, het binne 2-4 jaar vlot Afrikaans leer praat, lees en skryf. Dit was meestal via daaglikse gespreksvoering, Netwerk24-artikels lees (ek het soms vir hom begripstoetse opgestel), e-posse of teksboodskappe tik en oefen, en ShowMax kyk. (Hy het begin met Afrikaanse stories met Engelse onderskrifte, maar dit was naderhand nie meer nodig nie.)
Ek het self al op YouTube baie oulike Sjinese lessies gevolg en dit aangevul met oefengesprekkies met 'n buurman.
Verder het 'n Suid-Afrikaanse vriendin van my in Montreal, Kanada, Frans geleer via 'n aanlyn tutor. Jy kan op www.iTalki.com vir jou gewalifiseerde tutors - ja, selfs Afrikaanse tutors! - opspoor en privaat lesse bespreek via hulle oulike platform. Jy kan aandui wat jou teikentaal, jou doelwitte en jou huidige kennisvlak is. Op grond van daardie insette, kan jy dan deur 'n lys geskikte onnies blaai en 'n inleidende les bespreek.
Op soek na Afrikaanse taalleerboeke?
Voordeel 2 - Hulle kan (waarskynlik) reeds lees en skryf!
Hierdie is veral 'n voordeel met mense wie se ander (eerste) taal dieselfde alfabet as ons s'n volg. Aangesien Afrikaans hoogs foneties is (jy sê en skryf 'n ding konsekwent redelik eenders), is dit nie moeilik om korrek te leer voorlees en spel nie.
Jy hoef dus nie met "Die kat sit op die mat" tipe boekies te begin nie! Inteendeel, ek het met my Serwiese vriendin, Mila, weekliks stukkies uit Liewe Heksie se Blommelandverhale gelees en só woordeskat, uitspraak en sinstruktuur behandel.
Begin met Afrikaanse leesboeke
Voordeel 3 - Hulle behoort gevestigde leervaardighede en selfdissipline te hê
Hierdie is waarskynlik die grootste voordeel - as hulle werklik WIL, sal hulle die moeite doen. Jy hoef dan net te fasiliteer! Help hulle om 'n paar leerboeke of hulpmiddels te vind, en stel jouself beskikbaar vir gesprekvoering of oefensessies. Maak dit 'n weeklikse afspraak en stel doelwitte.
Dis werklik pret! Dis 'n lekker uitdaging vir almal, en 'n kans om saam te leer en ons eie kennis van ons taal op te skerp. Ek moes die reëls agter 'n hele paar sinsbouvrae gaan naslaan - dis interessant wat 'n mens as moedertaalspreker net instinktief doen!
En hoewel dit waar is dat kinders soos sponsies is met die aanleer van tale, beteken dit nie dat volwassenes dit nooit sal kan doen nie. Probeer dit! En laat weet ons hoe dit gaan!
’n Nota oor my ervaring:
Tussen 2015 en 2022 het ek vier volwassenes - 'n sending van Amerika, 'n vriendin uit Serbië, vriende se tienerdogter in Engeland, en my eie kêrel (nou my man) - gehelp om Afrikaans baas te raak.
My twee Australië-gebore seuntjies is ook 100% tweetalig en praat pragtig Afrikaans. So wees gerus - dis heeltemal doenbaar op alle ouderdomme!