Ons Spraakterapeut Praat oor Tweetaligheid - Deel 2

Ons Spraakterapeut Praat oor Tweetaligheid - Deel 2

Sumari Erasmus

Tien wenke om tweetaligheid in jou kind te bevorder  

  1. Skep die behoefte (Create the need)

Dit is krities belangrik om die behoefte te skep om die minderheidstaal te praat. As kinders nie nodig het om die taal te praat nie, hoekom sal hulle? Die behoefte om die minderheidstaal te praat kan geskep word deur met iemand te gesels wat wel die taal praat, of ‘n speletjie of aktiwiteit met hom/haar te deel. Part gesinne maak ook 'n ooreenkoms dat daar onder spesifieke omstandighede (bv by die huis, of met sekere persone) slegs in die minderheidstaal gepraat word.

  1. Spandeer tyd saam (Spend time together)

Spandeer soveel moontlik tyd saam met jou kinders. Dit is veral belangrik as jy en jou lewensmaat verskillende tale met jul kinders by die huis praat.

  1. Praat baie in die minderheidstaal (Speak in the minority language as much as possible)

Hierdie mag dalk voor die handliggend wees, maar praat soveel as moontlik met jou kinders en motiveer hulle om met jou terug te praat in julle taal. Hoe meer woorde hulle hoor, hoe meer woorde leer hulle.

  1. Speel musiek en sing liedjies (Play music and sing songs)

Speel musiek en sing liedjies in die minderheidstaal. ‘n Melodie help kinders om die woorde en frases te memoriseer wat hul andersins nie sommer sal onthou nie. Die lirieke help ook om hul woordeskat uit te brei.

  1. Lees meer boeke (Read more books)

Moenie onderskat hoe belangrik dit is om boeke te lees in die minderheidstaal nie. Maak seker jy het ‘n hele aantal verskillende boeke in die minderheidstaal, veral dié waarvan jou kinders hou. Laat jou kinders toe om nuwe boeke te kies waarvan hulle hou. As hulle van ‘n storie hou, sal die meeste kinders dit oor en oor wil lees!

  1. Probeer ‘n oppasser kry wat die minderheidstaal kan praat (Try to find a carer who speaks the minority language)

As jy ‘n werkende ouer is, probeer ‘n tweetalige oppasser kry wat die minderheidstaal ook kan praat. Sodoende kry jou kinders meer blootstelling aan die minderheidstaal terwyl daar ook na hulle omgesien word.

  1. Lees elke dag hardop vir jou kind (Read out loud daily to your child)

Dit is uiters belangrik dat jy elke dag vir jou kinders lees, hetsy met slaaptyd of ander tye van die dag. Om ‘n liefde vir lees te kweek, is een van die belangrikste dinge wat jy vir jou kinders kan doen. Deur daagliks vir hulle te lees, help jy hulle om ‘n nuwe woordeskat aan te leer en aan woorde blootgestel te word wat hulle andersins nie sou hoor nie.

  1. Skermtyd slegs in die minderheidstaal (Screen time in the minority language only)

As jy skermtyd toelaat vir jou tweetalige kinders, gebruik dit tot jou voordeel. Laat jou kinders programme kyk en speletjies speel in die minderheidstaal om hulle sodoende meer blootstelling aan die minderheidstaal te gee.

  1. Koop vir hulle geskenke wat hulle sal help met taalontwikkeling (Buy gifts that encourage language development)

Koop vir verjaardae, of Kersfees vir jou kinders geskenke wat opvoedkundig is en hulle taalvaardighede bevorder. Dit sluit in boeke in die minderheidstaal, legkaarte, of speletjies wat hulle sal aanmoedig om die minderheidstaal te praat en die taal te gebruik tydens spel.

  1. Maak saam kos (Cook together)

Leer jou kinders oor julle kultuur en taal deur disse te maak wat eg is aan jul kultuur en taal. Sodoende sal hulle nuwe woorde leer terwyl julle saam in die kombuis kook.

Hierdie is die tweede in 'n reeks van drie artikels deur Sumari Erasmus. Sy is 'n spraakterapeut, maar ook 'n Afrikaanse mamma in die buiteland. Sumari en haar gesin woon in Kanada. Sy het haar doktorsgraad in Spraak-taalterapie aan die Universiteit van Pretoria voltooi en het 'n passie vir die behoud van Afrikaans.

Baie dankie, Sumari! Ons sien uit na Deel 3: 5 mites oor tweetaligheid!

 

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment