Die Feite oor Fiksie Lees: Dit Berei Jou Kind Voor Op Die Regte Lewe!

Die Feite oor Fiksie Lees: Dit Berei Jou Kind Voor Op Die Regte Lewe!

Is stories lees slegs 'n ontspanningsaktiwiteit? Of is die verbeeldingsreise waarop 'n bindende leesboek jou kind neem, op meer maniere voordelig? Navorsing toon dat hierdie tjoepstil tydverdryf ons kinders voorberei op die woelige lewe daarbuite.

President Barack Obama som dit mooi op: "Lees help ons om die pas te verminder en perspektief te kry, en gee ons die geleentheid om in iemand anders se skoene te staan - twee bitter kosbare dinge."

Span jou brein in om gate te vul

Hoe verskil fiksie van nie-fiksie? Terwyl nie-fiksie geskryf word om feite oor te dra, het fiksie dikwels 'n heel ander doel. Trouens, stories word soms só geskryf dat belangrike inligting verbloem word. Dit dwing ons om ons verbeelding in te span om die gate te vul.

Byvoorbeeld - hoe lyk hierdie kasteel waarin die prinses woon? Of, waarom is die wolf so slinks? Wat is syinnerlike dryfkrag? In die proses leer ons afleidings maak - 'n bitter waardevolle breinvaardigheid én sosiale vaardigheid.

Meegevoer tot meegevoel

Wanneer 'n fantastiese storie ons meevoer, kan dit ons vooropgestelde idees en stereotipes help verander. Hoe so? Wel, 'n feitelike artikel of handboek span ons analitiese brein in - ons verwerk, weeg op en beoordeel hoe hierdie inligting in ons huidige raamwerk inpas.

Maar wanneer 'n storie ons werklik intrek, vorm ons 'n emosionele band met die karakters. Daar ontwikkel verhouding en egte empatie wat moeilik is om af te skud wanneer ons die boek toemaak. Ons voel saam met die karakter. Ons word dus meegevoer tot meegevoel. En wanneer die karakter se omstandighede baie anders is as ons s'n, kan hierdie ervaring paradigmas skuif!

Wen met woordeskat

Die volgende voordeel is seker voor die hand liggend, maar jip - lees lê woordeskat vas. Wanneer ons woorde dikwels binne konteks sien, word die betekenis (en die gepaste gebruikswyse) deel van ons. 

Stories lees is dus 'n wyse vir kinders om sagkens (en amper onbewus) belangrike kennis op te doen. 'n Ryk woordeskat help ons om makliker, meer effektief en betekenisvol met ander te kommunikeer. Dit kan ook talle akademiese voordele inhou. 

Gefassineer en gefokus

Lees is 'n taak wat fokus vereis. Om uit te vind wat die uiteinde van 'n mooi verhaal is, moet ons deurdruk en aandag gee tot op die laaste bladsy. Dit verg fokus om diep in 'n storie in te delf. Maar die goeie nuus is dat kinders  met gereelde lees "oefening" die vermoë opbou om steurnisse uit te sny, sodat hulle volkome en diep in 'n storieboek verlore raak.

Hierdie fokus-vaardigheid is natuurlik oordraagbaar na vele ander gebiede - mooi luister na ander in 'n gesprek, konsentrasie op skoolwerk of werk, oefen om 'n fisiese vaardigheid te ontwikkel - julle kry die idee.

So - hoe kweek ek 'n leesbelangstelling my kind?

Dit klink alles fantasties. Maar hoe gemaak as my kind nie baie van lees hou nie?

In ons volgende artikel kyk ons na maniere waarop ons as volwassenes 'n liefde vir lees in ons kinders kan aanwakker. Maar die kragtigste manier is seker om self die gedrag te beoefen wat ons aanmoedig. Dit is reg - deel jou eie leesreis met jou kinders! Wys vir jou kinders hoe wonderlik dit is om te lees, deur voor hulle te lees aan iets lekkers of kreatiefs.

Lekker lees!

Terug na blog / Back to blog

1 kommentaar / comment

Baie dankie vir die bevordering van ons pragtige Moedertaal, soveel uitdrukkings kan net in Afrikaans gesê word. Ons is in NZ, my dogter en kleinseun is in Perth. Ek wil graag kyk na die kinderboeke en fiksie vir volwassenes. Ek geniet dit om te lees en verslind Afrikaanse stories, sal graag wil bestel. Groete Heila

Heila Du Plessis

Laat 'n kommentaar / Leave a comment