Ons Spraakterapeut Praat oor Tweetaligheid - Deel 1

Ons Spraakterapeut Praat oor Tweetaligheid - Deel 1

My kind en ‘n tweede taal

In baie lande is dit nie ongewoon dat kinders twee of meer tale leer praat en dit daagliks gebruik om met mense rondom hulle te kommunikeer nie. Expat-ouers wat tuis 'n ander taal praat as die oorheersende taal in hul nuwe land, staan dalk voor 'n dilemma: Moet ons ons kinders slegs die oorheersende taal leer, of moet ons probeer om hulle tweetalig groot te maak?

Alhoewel dit uiteraard belangrik is om die taal van die land waarin 'n mens woon te leer, is dit vir baie mense ook belangrik dat hul kinders die taal van hul ouers, grootouers en ouer broers en susters leer. Ons kan na hierdie tale verwys as minderheidstale, of gemeenskapstale. Navorsing toon dat daar baie voordele daaraan verbonde is om jou kinders tweetalig groot te maak.

Voordele van tweetaligheid

  • Breinfunksionering

Meertaligheid hou onder andere neurologiese voordele in vir die breinontwikkeling in kinders. Vanuit ‘n neurologiese oogpunt, ontwikkel hulle ’n groter breinnetwerk, wat aan hulle ’n intellektuele hupstoot gee. Tweetalige kinders het die voordeel dat hul breinkapasiteit vergroot, aangesien meer dele van die taalarea geaktiveer word as in ‘n eentalige brein. Onlangse studies toon dat tweetalige kinders ‘n ander nuwe taal ook makliker aanleer as eentalige kinders.

  • Algehele kognitiewe funksionering

Navorsing toon dat tweetalige kinders se divergente denke (wat dui op ‘n kind se vermoë om op ‘n kreatiewe, verbeeldingryke, ope en vryedenkende wyse te werk te gaan) beter ontwikkel is as dié van eentalige kinders. Tweetalige kinders se kognitiewe styl verskil ook van die van eentalige kinders. Hul denkwyse, veral met betrekking tot sortering van inligting, geheue, transformasies, konsepvorming en gebruik van inligting toon hoër spesialisering as eentalige kinders s'n.

Onlangse studies het ook bewys dat tweetalige kinders oor ‘n beter uitvoerende beheer beskik as eentalige kinders. Uitvoerende beheer verwys na neurologiese funksies, gesetel in die prefrontale korteks, wat betrokke is by doelgerigte hoër-orde-redenering en -beplanning.

  • Metalinguistiese bewustheid

Metalinguistiese vaardighede is denkvaardighede wat ‘n kind in staat stel om op strukturele kenmerke van gesproke taal te kan reflekteer en dit te manipuleer. Tweetalige kinders word ook metalinguisties bevoordeel deurdat hulle oor meer kennis van die twee tale beskik en daarom beter begrip toon vir taalstruktuur. Hulle beskik ook oor die vermoë om klanke en betekenis op ‘n vroeë ouderdom van mekaar te onderskei.

  • Werkende geheue

Kinders wat tweetalig is, se werkende geheue is beter ontwikkel as dié in kinders wat net een taal magtig is. Werkende geheue verwys na die vermoë om inligting in die brein te stoor, asook om die inligting te gebruik in die uitvoer van verskeie kognitiewe opdragte.

Voorbeelde van wanneer kinders gebruik maak van werkende geheue, sluit onder andere in: (a) die vermoë in om komplekse opdragte met veelvuldige stappe uit te voer, (b) getalle bymekaar te tel in sy/haar kop sonder om dit neer te skryf, (c) na die volgorde van gebeure in ‘n storie te luister en die storie dan terug te vertel, asook (d) die vermoë om te konsentreer. Belangrike en deurlopende bevindinge is ook dat ʼn goeie werkende geheue nodig is vir leesbegrip en wiskunde.

  • Sosio-emosionele ontwikkeling

Kinders wat meertalig is en ook dieselfde taal kan praat as sy/haar ouers en grootouers behou ‘n sterk band met hulle familie, kultuur en gemeenskap. Navorsing toon ook dat kinders wat tweetalig is, makliker vriende maak omdat hulle twee tale kan praat en dus vriende in hulle tweede taal ook kan maak. Dit is ‘n belangrike vaardigheid om te hê in ons diverse samelewing.

Hierdie is die eerste in 'n reeks van drie artikels deur Sumari Erasmus. Sy is 'n spraakterapeut, maar ook 'n Afrikaanse mamma in die buiteland. Sumari en haar gesin woon in Kanada. Sy het haar doktorsgraad in Spraak-taalterapie aan die Universiteit van Pretoria voltooi en het 'n passie vir die behoud van Afrikaans.

Baie dankie, Sumari! Ons sien uit na Deel 2: Tien wenke om tweetaligheid in jou kind te bevorder en Deel 3: 5 mites oor tweetaligheid!

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment