HELP! My tiener/ volwasse kind wil NOU skielik Afrikaans leer!

HELP! My tiener/ volwasse kind wil NOU skielik Afrikaans leer!

Ons sien dit so baie hier in Australië - 'n gesin wat gemik het om kinders met Afrikaans en Engels groot te maak, wat na 'n paar jaar net Engels met mekaar praat. Dis baie algemeen. En dit is dikwels heeltemal OK met almal! Tot die moeilike dag wanneer party kinders hul ouers verwyt dat hul voel hulle is van 'n gedeelte van hul erfenis ontneem...

Of tot die blye dag waar iemand vir oupa/ ouma/ pa/ ma vra om hulle te help om as tieners of volwassenes hul Afrikaans op te knap! 

Eerstens - bogenoemde is nie kritiek nie. As nuwe aankomelinge in 'n land soos Australië of Nieu-Seeland, is baie ouers oorweldig deur die realiteit van 'n gesinsreis wat meer druk op hul menswees en op hul tyd plaas as verwag. Dis alleen, daar is dikwels nie ondersteuning van grootouers of ander uitgebreide familie nie, en die verantwoordelikhede rondom huishou, skoonmaak, rondry en blote oorlewing maak dat dinge soos taal- en kultuurbehoud van nature 'n bietjie opsygeskuif word. Stel dit nou nog in kombinasie met kinders wat wil inpas in hul nuwe gemeenskap, self oorweldig is deur besige skedules, of dalk net dwars trek teen Afrikaans praat vir watter rede ookal... 'n Mens doen wat jy moet doen om te oorleef.

Maar kom ons sê jou tienerkind, of -kleinkind, of selfs 'n vriend of kêrel, vra jou op 'n dag - "Ek wil Afrikaans leer!". Hoe gemaak? Waar begin jy?

Ek, Jeannie, het vir jou 'n paar voorstelle en idees uit my eie ervaring. Tussen 2015 en 2022 het ek vier mense - 'n seldelingvriend van Amerika, 'n vriendin uit Serbië, vriende se tienerdogter in Engeland, en my eie kêrel (nou my man) - gehelp om as volwassenes Afrikaans baas te raak.

Dis heeltemal doenbaar! Tewens, dis volgens my dikwels makliker om 'n toegewyde volwassene te begelei op die leerreis, as wat dit is om 'n ongefokusde kleuter te onderrig. In hierdie artikel behandel ek die voordele, tesame met 'n paar praktiese strategieë wat ek saam met my "studente" ontdek het.

Voordeel 1 - Hulle kan (waarskynlik) reeds lees en skryf!

Hierdie is veral 'n voordeel met mense wie se ander (eerste) taal dieselfde alfabet as ons s'n volg. Aangesien Afrikaans hoogs foneties is (jy sê en skryf 'n ding konsekwent redelik eenders), is dit nie moeilik om korrek te leer voorlees en spel nie. 

Jy hoef dus nie met "Die kat sit op die mat" tipe boekies te begin nie! Inteendeel, ek het met my Serwiese vriendin, Mila, weekliks stukkies uit Liewe Heksie se Blommelandverhale gelees en só woordeskat, uitspraak en sinstruktuur behandel.

Voordeel 2 - Hulle het toegang tot tegnologie!

Daar is so baie hulpmiddels beskikbaar om die aanleer van 'n taal te help!

My Australiese man, Kieran, het binne 2-4 jaar vlot Afrikaans leer praat, lees en skryf. Dit was meestal via daaglikse gespreksvoering, Netwerk24-artikels lees (ek het soms vir hom begripstoetse opgestel), e-posse of teksboodskappe tik en oefen, en ShowMax kyk. (Hy het begin met Afrikaanse stories met Engelse onderskrifte, maar dit was naderhand nie meer nodig nie.)

Ek het self al op YouTube baie oulike Sjinese lessies gevolg en dit aangevul met oefengesprekkies met 'n buurman.

Verder het 'n Suid-Afrikaanse vriendin van my in Montreal, Kanada, Frans geleer via 'n aanlyn tutor. Jy kan op www.iTalki.com vir jou gewalifiseerde tutors - ja, selfs Afrikaanse tutors! - opspoor en privaat lesse bespreek via hulle oulike platform. Jy kan aandui wat jou teikentaal, jou doelwitte en jou huidige kennisvlak is. Op grond van daardie insette, kan jy dan deur 'n lys geskikte onnies blaai en 'n inleidende les bespreek. 

Voordeel 3 - Hulle behoort gevestigde leervaardighede en selfdissipline te hê

Hierdie is waarskynlik die grootste voordeel - as hulle werklik WIL, sal hulle die moeite doen. Jy hoef dan net te fasiliteer! Help hulle om 'n paar leerboeke of hulpmiddels te vind, en stel jouself beskikbaar vir gesprekvoering of oefensessies. Maak dit 'n weeklikse afspraak en stel doelwitte. 

Dis werklik pret! Dis 'n lekker uitdaging vir almal, en 'n kans om saam te leer en ons eie kennis van ons taal op te skerp. Ek moes die reëls agter 'n hele paar sinsbouvrae gaan naslaan - dis interessant wat 'n mens as moedertaalspreker net instinktief doen!

En hoewel dit waar is dat kinders soos sponsies is met die aanleer van tale, beteken dit nie dat volwassenes dit nooit sal kan doen nie. Probeer dit! En laat weet ons hoe dit gaan!

Terug na blog / Back to blog

2 kommentare / comments

Ons kort ’n taal app wat mense help met Afrikaans. Ek is in Australie en so baie Aussies het my al gevra of so iets bestaan

Riaan

Dit is ’n baie oulike artikel wat op goeie praktiese ervaring gebaseer is. Dankie!
Ek hou van jou kommentaar oor sinskonstruksie-reëls wat mens “instinktief” toepas eerder as om daaroor na te dink. Partykeer kan tweedetaal-sprekers hulle moedertaal-eweknieë sommer reghelp ook!
Hoe het die mense met wie jy die “leer-pad” gestap het, met woordeskat gemaak? Kon julle Engels as ’n tipe “brug-taal” gebruik om ooreenkomste en verskille te ontdek?

Christa

Laat 'n kommentaar / Leave a comment