
Hoe leer ek my kinders oorsee Afrikaans?
Jeanne van ZylShare
Hierdie is ‘n groot en relevante vraag! Soveel mense het die verwagting dat hul oorsee-gebore peuters, kleuters of jong kinders vlot Afrikaans sal praat. En hoewel die ouers baie hard werk, gebeur die nie altyd dat die nageslag se eerste woorde, of selfs sinne, in Afrikaans is nie. Sommige Afrikaanssprekende ouers in die buiteland merk op dat hulle peuters van ‘n jong ouderdom in Engels met hulle terugpraat.
Hoe werk dit? Hoe kan ons onsself opstel vir sukses? En hoe lýk sukses?
In hierdie artikel raak ons aan 'n paar temas rondom kinders se moedertaalontwikkeling in 'n omgewing met 'n ander heersende taal. Ons gaan begin met verwagtinge, aanbeweeg na strategieë om blootstelling te maksimeer, en afsluit met die belangrike rol wat ouer(s) of versorger(s) speel.
1. Dit begin met ‘n verwagting en doelstelling
Om jou kind “Afrikaans groot te maak” kan baie verskillende dinge beteken. In ‘n land waar die heersende taal vir maatjies maak, skoolonderrig en werksgeleenthede nie jou huistaal (bv Afrikaans) is nie, moet ‘n mens seker maak jou verwagtinge maak sin in ‘n tweetalige of meertalige konteks.
Vir elke unieke gesin kan die mikpunt iewers op ‘n breë spektrum moontlikhede lê, en dit kan verander of aangepas word oor tyd:
- Kinders kan Afrikaans lees, skryf, praat en verstaan, op dieselfde vlak as Engels (of ‘n ander heersende taal).
- Kinders kan met gemak Afrikaans praat en verstaan, en gebruik dit konsekwent met Afrikaanssprekende vriende en familie.
- Kinders kan met gemak Afrikaans praat en verstaan, maar “speel” en gesels dalk in ‘n ander taal wanneer hulle alleen of saam met ander mense is.
- Kinders verstaan Afrikaans, maar praat net in die heersende taal (bv Engels) terug.
- Kinders verstaan ‘n paar woorde Afrikaans en geniet af en toe Afrikaanse liedjies, stories of videos.
Nog 'n belangrike aspek van verwagting is nie net die mikpunt nie, maar ook hoe 'n mens daar gaan uitkom. As ouer of versorger moet 'n mens besef dat vlot tweetaligheid nie noodwendig vanself vir jou kind gaan gebeur nie - dit gaan 'n mate van inspanning en dissipline verg.
Immigrante is in baie rigtings geskeur, en veral sonder grootouers of uitgebreide familie in die omtrek, is daar baie verwagtinge op ‘n mens se energie en tyd. Tussen dit alles, gaan jy, of julle, bereid moet wees om konsekwent leiding te neem om jou kind(ers) to by die punt op die spektrum waarvoor julle mik, te help kom (en bly).
2. Blootstelling is alles
Die goeie nuus hier is:
Taal is lewendig, en kinders is sponsies!
Met die regte hoeveelheid hoë gehalte blootstelling en ouerleiding, is daar geen rede waarom jou spruit nié jou moedertaal kan baasraak nie.
Maar hoe lyk hoë gehalte blootstelling?
Is ‘n passiewe aktiwiteit soos stories luister of Afrikaanse TV-programme kyk, blootstelling? En is die paar wilde ure tussen dagsorg oplaai en slaaptyd, met vinnige en gejaagde interaksies in Afrikaans, genoegsame blootstelling?
In my ervaring, is alledaagse tweerigting kommunikasie tussen ‘n versorger en ‘n kind, die beste vorm van blootstelling. Die gehalte van die interaksie, die rykdom van die woordeskat wat julle gebruik, asook die konsekwentheid en tydsduur van die blootstelling is natuurlik alles belangrik.
Dink 'n bietjie só daaraan: Jy is jou kind se eerste onderwyser. Elke oomblik saam is ‘n geleentheid om te gesels, te leer en verhouding te bou. Kinders is ongelooflik oplettend en vol vrae - so maak die meeste van elke oomblik!
Idee 1: Maklike, hoë gehalte blootstelling
Dit hoef regtig niks meer te kos as tyd en ‘n bietjie aandag en kreatiwiteit nie. Elke ding wat julle sien, het ‘n naam en 'n storie!
Wanneer julle rondry en kyk na al die voertuie om julle, by die dokter of koffiewinkel sit en wag en kyk vir al die mense; deur die winkelgange stap, saam speel by die huis, saam kosmaak en aansit by die etenstafel, werk aan ‘n Lego-projek, saam die wasmasjien laai en wasgoed vou, stap in die bos, of stories saam lees, is julle besig met produktiewe blootstelling.
Wanneer julle die wêreld só saam verken, doen dit wonders vir julle verhouding, en vir jou kind se taalontwikkeling.
Idee 2: Skep tyd vir blootstelling
Ons gesin het ook gekies dat ek deeltyds werk terwyl ons seuntjies klein is. Hierdeur hoef ons die kinders minder dae van die week dagsorg toe te stuur. Sodoende verseker ons dat die persentasie hoë gehalte Afrikaanse blootstelling redelik naby aan die persentasie Engelse blootstelling is oor die periode van ‘n week.
Kliek hier: Afrikaanse woordeskatboeke
3. Dissipline en konsekwentheid
Hier kom die moeilike(r) deel: die dissipline en konsekwentheid waarmee ouers kinders daagliks begelei op hierdie reis om julle huistaal te prioritiseer. Dit beteken dat almal inkoop in die mikpunt, en ouers vasstaan by die afgesproke strategieë of ons nou moeg, besig of siek is.
Hoewel elke familie se omstandighede anders is, deel ek ‘n paar eenvoudige strategieë wat konsekwent in ons gesin toegepas word, en tot dusver goed gewerk het met twee seuntjies. Dalk kan een van hulle jou help!
Strategie 1: Konsekwentheid met tyd en plek
Om konsekewent te wees met tyd en plek vir huistaalgebruik, is baie belangrik. Vir party mense kan dit beteken Afrikaans by die huis, of Afrikaans met een ouer.
Vir ons gesin is dit Afrikaans vir alle interaksies tussen ons gesinslede. Die enigste uitsondering is wanneer ons in Engelse geselskap is en ons vóór ander mense met mekaar praat. In daardie geval, sal ons die gesprek kortliks herhaal in Afrikaans en Engels.
Strategie 2: Korrigeer en gaan aan
Na ‘n paar lang dae by die werk of by die skool, kan ons almal meer in Engels begin dink. So ons is geduldig en probeer ons bes om saam te leer. Indien iemand hul taal meng of soek vir 'n Afrikaanse woord, gee ons mekaar kans om weer te probeer, en gaan aan met die gesprek.
Strategie 3: Lees slegs Afrikaans hardop by die huis
Saamlees is 'n ongelooflike kragtige manier om taalvaardigheid te bou, en 'n lewenslange liefde vir lees te kweek. Tydskrifte, koerante, stories en woordeboeke is almal uitstekende hulpmiddels om woordeskat en sinsbou te leer. En die verhoudingstyd wat outomaties daarmee saamkom, is uiters kosbaar!
Ons probeer om soveel moontlik saam met die seuntjies te lees, en het nogal baie boeke in die huis. Maar seker 60% van ons versameling is Engelse boeke! Hoe lees ons dan net Afrikaans by die huis? Dis eenvoudig! Ons lees al die kinderboeke (maak nie saak in watter taal hul geskryf is nie) in Afrikaans voor. Dis baie goeie oefening vir ons as ouers se breinelastisiteit, om so vinnig te vertaal!
Kliek hier: Afrikaanse storieboeke
Strategie 4: Prioritiseer gesels tydens gesinstyd en een-op-een tyd
Hierdie gaan saam met die gedeelte oor blootstelling, maar ek wil net weer beklemtoon hoe kosbaar ons tyd saam met ons kinders is.
Taal is ‘n instrument vir menslike verhoudings, so ons tyd sáám is 'n geleentheid om beide taalvaardigheid en gesinsbande te versterk.
Die lewe gaan vinnig verby, en ons is besig - elke dag bring soveel dinge wat vir ons aandag kompeteer. Maar ons kan stilstaan en dink aan die leerpotensiaal en verhoudingpotentiaal wat lê in die ure wanneer ons stil-stil eenkant alledaagse huistake doen, kinders voor die TV parkeer; of self op ons fone verdwyn. Ons is ons kinders se grootste rolmodelle en eerste onderwysers, so om in die oomblik daar te wees vir hulle, is van onskatbare waarde.
Hoe meer ons intensioneel saam doen, en aktief saam gesels oor alles wát ons doen, of bespreek of wat ons sien, hoe meer kan ons Afrikaans oefen en ons kinders in konteks help met hulle taal. En die hegte band wat ons hierdeur vorm, is die kosbaarste geskenk van alles.
Sien meer: Bybelstudie vir kinders
4. Ter afsluiting
Ons almal het uitdagings op vele gebiede, veral ouers en immigrante - dikwels sonder veel van ‘n ondersteuningstelsel in ‘n nuwe land, maar ons hunker soms na ons erfenis en taal. Ek hoop dat hierdie artikel vir iemand nuttig is. Dit is met ‘n hart vol liefde geskryf vir ouers en kinders regoor die aarde - almal vol soveel potensiaal, en ook uit liefde vir my moedertaal.
Wat vir een gesin werk, is dalk glad nie prakties vir ‘n ander gesin nie. Maar hoe meer ons mekaar ondersteun en deel wat wel vir ons werk, hoe sterker word ons gemeenskap hier in die buiteland en hoe meer idees het ons om te probeer!
Deel gerus jou ervaring of wenke in die kommentaar.
1 kommentaar / comment
Baie dankie vir so ’n insiggewende artikel vol prakiese idees! Ek het ook daarvan gehou dat jy ’n verskeidenheid van moontlike mikpunte genoem het. Niemand se omstandighede is dieselfde nie, maar vir almal is daar ’n moontlikheid!