Leer en oefen lekker Afrikaans, waarookal julle gaan!

Leer en oefen lekker Afrikaans, waarookal julle gaan!

Jeanne van Zyl

Sedert Boekwurm se ontstaan in 2021, het ek al met ‘n magdom Afrikaanssprekende mense in die buiteland gesels wat op die interessantste plekke woon! Nadia van Zyl en haar gesin woon in Newcastle, NSW in Australië. Sy het ‘n onderwysagtergrond en bied deesdae aanlyn en in persoon Afrikaanse lesse aan.

Ons het ‘n bietjie gesels oor die informele en formele strategieë wat gesinne tuis kan volg om Afrikaans lewend te hou. Ek het haar ook uitgevra oor Lekker Afrikaans, die baie gepaste naam waaronder sy Afrikaanse lesse en ander opvoedkundige inisiatiewe bedryf.

Nadia, jy en jou gesin is nou al byna vyf jaar in Australië, en jou twee kinders is beide in Suid-Afrika gebore. Wat is op die oomblik vir julle realisties rondom Afrikaans praat by die huis?

Ons praat oorwegend Afrikaans in die huis. So nou en dan moet ons maar na Engels oorslaan as ons sien die kinders verstaan nou glad nie wat ons sê nie. Ons probeer ons taal suiwer hou, hoewel dit maar uitdagend is!

Hoe hou julle Afrikaans pret, relevant en lewend by die huis?

Ons luister Afrikaanse musiek wanneer ons rondry, en kyk graag Afrikaanse stories en flieks. Ons hou ook van ons Boereplaas bordspeletjie. Baie van my resepteboeke is nog Afrikaans en op hierdie manier leer my dogter die basiese Afrikaanse terme in die kombuis.

Ek stuur vir my dogter teksboodskappe in Afrikaans, want sy kan Afrikaans lees en skryf. My jongste was nog klein toe ons oorgekom het, so hy het nie in Suid-Afrika (of in Afrikaans) skoolgegaan nie. Miskien stel hy eendag daarin belang dat ek hom leer! Hy probeer natuurlik boodskappe ontsyfer, en kom mooi reg met van die makliker woorde. Ek moes hom net leer dat "die" nie "dood" beteken nie!

Dit klink of julle die meeste maak van elke geleentheid om die kinders blootstelling te gee aan Afrikaans. Het jy enige wenke vir ouers wat moedeloos is rondom die behoud van Afrikaans in hul huishoudings?

As julle in die huis Afrikaans praat en daar is ‘n bietjie verwarring, moenie opgee nie! Vertaal maar net die nodigste woorde. Gee belangrike instruksies stadig en herhaal in Engels as dit nie dadelik begryp word nie. Aanhouer wen!

Dis so goed om te hoor! En het jy enige praktiese idees om taalblootstelling in ‘n mens se alledaagse lewe te prioritiser, en almal positief daarvoor te hou oor die lang termyn?

Konstante blootstelling is maar die beste manier om te leer. 

Vir dié wat graag wil leer lees, plak Afrikaanse naamkaartjies op algemene artikels rondom die huis. Begin by die bottels en pakkies in die yskas of spens. Insidentele leer is baie doeltreffend!

Hou aan om Afrikaanse musiek en stories te luister, en om te probeer om Afrikaanse televisieprogramma te kyk. Haal weer daai kinderboeke en CD's uit - dis selfs vir ouer kinders lekker en nostalgies.

Speel speletjies soos "Ek sien met my kleine ogie" en "Raai-Raai-Riepa" om voorwerpe te beskryf terwyl jul wag vir by die dokter of in die kar ry.

Speel Afrikaanse woordspeletjies en bordspeletjies as 'n gesin. Speletjies soos stomstreke en "Pictionary" kan baie nuttig wees om Afrikaanse woordeskat en verduideliking te oefen.

Jy kom uit ‘n onderwysagtergrond en bied aanlyn Afrikaanse lesse aan. Het jy enige raad vir gesinne wat dalk ‘n meer formele benadering oorweeg vir hul kinders of Engelssprekende vriende?

Afrikaanse lesse is 'n goeie idee as die persoon ekstra oefening wil kry om vlot te kan gesels in die taal, of om te leer lees en skryf. 

As 'n persoon graag Afrikaans wil leer, is dit eintlik 'n maklike taal. Dit het minder ingewikkelde klanke en taalreëls in vergelyking met Engels of ander wêreldtale.

Die doelwit en motivering is natuurlik belangrik, tesame met die tyd wat jy daaraan spandeer. Lesse kan jou help om dit 'n prioriteit te maak, want dis deel van jou roetine.

Wat is jou benadering met “Lekker Afrikaans” se lesplanne? 

My sessies is informeel, en is gewoonlik tussen 35 en 45 minute lank, afhangende van die ouderdom van die student. Dit word aanlyn aangebied op 'n tyd wat die student pas.

Die sessie word opgeneem sodat die student dan later weer terug kan gaan om weer te oefen. Die student kan self besluit oor die gereeldheid van lesse, alhoewel weekliks die mees algemene keuse is.

Ons gesels oor alledaagse temas, byvoorbeeld die woordeskat en gesprekvoering wat ‘n mens sal nodig kry wanneer jy inkopies doen, wanneer jy iemand ontmoet, algemene vrae en moontlike antwoorde. 

Ons brei dan geleidelik woordeskat uit en kyk na getalle, kleure, voorwerpe in en om die huis. Ek voorsien ook werkkaarte wat by die huis gedruk en vir oefening gebruik kan word. Indien die student belangstel in taalleer, kan ons ook fokus op sinskonstruksie, woordsoorte, klankleer ensomeer.

Jy het ook genoem dat jy in die verlede Afrikaanse leermateriaal ontwerp wat as pdf-drukstukke beskikbaar is. Vertel ons meer!

Produkte sluit 'n Afrikaanse woordeskatkaart, alfabetkaarte, klasplakkate, en aktiwiteite rondom syfers en kleure in. 

Baie dankie, Nadia! Julle kan Nadia direk e-pos om 'n aanlyn Afrikaanse les te reël by lekkerafrikaans@yahoo.com.

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment