‘n Regte boek of ‘n digitale een?

‘n Regte boek of ‘n digitale een?

Die wêreld waarin ons woon

Digitale media, e-publikasies en aanlyn handboeke is deel van die moderne lewe. Ons almal sien deesdae hierdie vreeslike oulike kinder-“apps” waarna sommige mense liefderik verwys as  “baby crack”. Onder hierdie “apps” kry ons leesprogramme en ander opvoedkundige tablet-speletjies. Digitale tegnologie wat vir kleintjies leer lees, met die ongelooflikste grafiese ontwerp, is ‘n bitter aantreklike opsie vir kinders en ouers! Ons lees ook daagliks blogs, koerantartikels of resepte aanlyn, en ons gebruik e-lesers soos Kindles vir storieboeke of nie-fiksie.

Maar nou wonder ek - maak die visuele aard van digitale leesmateriaal dit dalk só oulik en só oorweldigend, dat dit leerders/ jong lesers se aandag aftrek van die kerninhoud? Kan die aanbieding dit dalk moeliker maak vir leerders om die eintlike boodskap of feite in te neem, of om ‘n nuwe vaardigheid aan te leer? Ek het ‘n bietjie gaan nalees oor die impak van die publikasieformaat op leeservarings vir oud en jonk, vir akademiese redes en vir plesier.

Vroeë lees en saam lees

Prof. Naomi Baron, emiritusprofessor in linguistiek aan die Amerikaanse Universiteit, moedig ouers aan om so lank moontlik te hou by gedrukte boeke. Sy sê dit maak dit vir ouers en kinders makliker om in verbinding te tree met mekaar én met die boek – deur vrae en antwoorde, ‘n tipe leesdialoog.

Dr Tiffany Munzer is ‘n pediater wat in kindergedrag en -ontwikkeling spesialiseer by die Mott Kinderhospitaal in die  VSA. Sy het navorsing gedoen rondom kinders se gebruik van e-boeke. Haar 2019-studie toon dat ouers en kleuters algeheel minder gesels, en ook minder oor stories se inhoud praat, wanneer hulle na e-boeke kyk (in vergelyking met gedrukte boeke).

Studies het al gewys dat die verminderde oor-en-weer sosiale interaksie met tablet-lees dikwels gepaard gaan met die moderne geneigdheid vir klein kindertjies om skerms op hulle eie, sonder ‘n volwassene, te gebruik.  

Dan is daar natuurlik ander steurende elemente op digitale media, soos helder grafika, advertensies, ‘n speletjie-element, of klanke en animasies. Dus word dit vir ouers moeilik om teen die aantreklike skerm te “kompeteer” om ‘n sinvolle gesprek met hul kinders oor die inhoud te voer.

Vir ons jongste lesertjies, wat op soveel gebiede ontwikkel (nie net intellektueel nie, maar ook sosiaal en emosioneel), is die voorstel dus om boekies waar moontlik primêr te gebruik. Elektroniese hulpmiddels kan ‘n goeie aanvulling wees, met ouers wat waak op die hoeveelheid en gehalte skermtyd waaraan kinders blootgestel word. (Loer hier na boekies om jou kind te help leer lees).

Akademiese prestasie

Oxford Academics het in Junie 2014 ‘n studie gepubliseer wat meen “die aantal boeke in ‘n huishouding het ‘n daadwerklike invloed op gesinslede se akademiese prestasie”. Die navorsers het data rondom meer as 200,000 studente aan die Organisation for Economic Co-operation and Development (OECD) se internasionale studentassesseringsprogram (PISA) in 42 lande analiseer.

Maar ‘n huishouding se boeke beteken niks as hulle net stof opgaar nie! Ouers en kinders se interaksies, asook toesighouding en dissipline rondom huiswerk speel natuurlik ‘n massiewe rol.

Verder is die tipe leesstof van kardinale belang. Prof Baron se navorsing praat van die “fiksie-effek”.

Daar is ‘n korrelasie tussen die lengte storieboeke wat leerders gereeld lees, en hoe hulle vaar met gestandardiseerde begripstoetse.  “Ons weet dat die hoeveelheid storieboeke wat jy lees, ‘n groot verskil maak. Ons sien nie hierdie korrelasie met tydskrifte, koerante of strokiesprente nie. Nee – dis boeklengte, en dis fiksie.”

So, storieboeke is nie net vir pret, verbeelding of ontspanning in die oomblik nie! Dit rus ons toe vir soveel meer! (Kyk na ons langste en dikste storieboeke).

Inhoudelike lees en leer

Vir ouer lesers (wat reeds kan lees) wat handboeke gebruik om nuwe inhoud aan te leer, is gedrukte teks ook ‘n wenner. Klaarblyklik vaar leerders beter in begripstoetse wanneer tekste van 500+ woorde in gedrukte vorm verskaf word. Dit word toegeskryf daaraan dat ons onbewustelik “geheuemerkers” haak aan inhoud wat op ‘n spesifieke plek op ‘n bladsy staan – bo, onder of in die middel.

Studies deur Schugar et al (2011) toon dat leerders minder notas neem wanneer hulle leermateriaal digitaal op ‘n skerm is. Dit is kommerwekkend, want ons weet dat notas en opsommings in ‘n leerder se eie handskrif ‘n erkende, effektiewe studiehulpmiddel is.

Ander navorsing deur Kaufman and Flanagan (2016) dui daarop dat leerders oor die algemeen goed vaar met feitelike inhoudvrae wanneer hulle digitaal leer, maar dat leerders abstrakte vrae (wat dieper redenasie en afleidings vereis) baie beter beantwoord wanneer hulle leermateriaal op papier gedruk is.

Baron se eie navorsing (2013-2015) het gevind dat die formaat ‘n baie groot impak het op konsentrasie en aandagspan. 85% van die Amerikaanse studente in haar navorsingsgroep het erken dat hulle “multitask” wanneer hulle aanlyn of digitaal leer, terwyl die geneigdheid heelwat laer is (26%) wanneer hulle gedrukte leermateriaal gebruik.

Lees vir plesier as volwassene

Vir my as volwasse leser, maak die formaat nie vreeslik saak as ek fiksie lees nie. Ons huis is nie baie groot nie, en ek lees graag, so ons verkies enige opsie wat min ruimte vereis! Ek is ook mal oor ons plaaslike biblioteek - ‘n boek is dus net tydelik op my bedkassie. En as ek gedrukte storieboeke koop en klaar gelees het, skenk ons dit by die naaste straatbiblioteek of ruil uit met vriende.

E-publikasies werk natuurlik heerlik vir die moderne leser. Die e-boek is ook gewoonlik goedkoper as die harde kopie, dis dadelik op my e-leser, en dit neem min of geen rakspasie op nie. Op ‘n e-leser (wat nie ‘n helder skerm het nie), is die stremming op my oë vir my om’t ewe tussen ‘n regte boek en die e-boek. En ek kan die lettertipe aanpas soos ek wil. ‘n Mens moet nie vergeet om die e-leser se battery te laai nie. O, en nie een van die twee moet in die bad val nie!

Aan die ander kant, slaap ek beslis makliker en beter as ek minder tyd op enige tipe skerms spandeer. Daar is heelwat studies rondom die impak van selfone en e-lesers op melatonien-produksie, asook slaap en ons interne horlosies en bioritmes. Die Amerikaanse Pediatrie-akademie stel voor dat ‘n mens jou e-leestoestelle minstens ‘n uur voor slaaptyd afskakel. Dit gee die oë en die verstand kans om af te skakel voor ‘n mens probeer rus. 

Maar, as ‘n mens ‘n bietjie sentimenteel kan wees - ek vind dat ek makliker tot ‘n fisiese boek se voorblad aangetrek word. Resepteboeke en ‘n Bybel is vir my persoonlik, iets wat ek op die rak wil hou en waarin ek kan notas maak of onderstreep. ‘n E-leser werk nie so goed hiervoor nie.

En dis mos net lekker om ‘n storieboek vas te hou. Veral saam met ons klein kindertjies, in die bed, voor hulle slaaptyd. En hulle het BAIE boeke!

Terug na blog / Back to blog

1 kommentaar / comment

Baie insiggewend. Ons bly verstom oor die ripple effek van (regte egte) boekies lees saam die jongspan. Dankie.

Mariana

Laat 'n kommentaar / Leave a comment