Ons Spraakterapeut Praat oor Tweetaligheid - Deel 3

Ons Spraakterapeut Praat oor Tweetaligheid - Deel 3

Deel 3: 5 mites oor tweetaligheid!

Hierdie is die derde  artikel in ons tweetaligheidstrilogie, geskryf deur Sumari Erasmus. Sy is 'n spraakterapeut, maar ook 'n Afrikaanse mamma in die buiteland. Sumari en haar gesin woon in Kanada. Sy het haar doktorsgraad in Spraak-taalterapie aan die Universiteit van Pretoria voltooi en het 'n passie vir die behoud van Afrikaans.

Baie dankie, Sumari!

Mite 1: Om jou kind aan meer as een taal bloot te stel kan ‘n spraakafwyking veroorsaak

Feit: Tweetaligheid kan nooit blameer word vir ‘n spraakafwyking nie. Sou daar ‘n spraakafwyking wees, sal dit nie net in die een taal voorkom nie, maar in albei tale.

Mite 2: Aanleer van twee tale sal jou kind deurmekaar maak

Feit: Tweetalige kinders mag moontlik die sinskonstruksie in tale verkeerdelik gebruik, maar dit beteken nie dat hulle verward is nie. Hulle kan ook verskillende woorde vanuit die verskillende tale wat gepraat word in dieselfde sin gebruik. Dit is algemeen in die ontwikkeling van tweetalige kinders. Teen die tyd dat ‘n kind vier jaar oud is sal hy/sy verstaan dat die twee tale heeltemal verskillend is en hoewel hy/sy nog sy/haar tale sal meng, sal hy/sy uiteindelik leer om die verskillende tale te praat sonder om dit te meng.

Mite 3: ‘n Kind sal nooit ‘n tweede taal vlot kan praat as hy/sy dit nie op ‘n jong ouderdom leer praat nie

Feit: Navorsing toon dat ‘n kind se brein soos ‘n spons is die eerste drie jaar van hy/sy lewe - hy/sy neem alles in. Dit is omdat die brein gedurende hierdie tydperk baie vinnig ontwikkel en maklik inligting stoor. Ten spyte van hierdie bevindinge kan kinders en ouers steeds op ‘n latere ouderdom ‘n tweede taal aanleer en dit vlot praat.

Mite 4: Tweetalige kinders ondervind dikwels akademiese probleme wanneer hul met skool begin

Feit: Ten spyte van die misverstand rondom dié kwessie, is daar baie akademiese voordele daaraan verbonde om tweetalig te wees. Kinders wat tweetalig is, het dikwels beter probleem-oplossingsvaardighede, kan verskillende opdragte gelyktydig uitvoer en beskik oor beter kognitiewe funskionering.

Mite 5: Kinders moet slim wees om tweetalig groot te kan word

Feit: Enige kind kan tweetalig wees. Geen kind is meer ‘linguisties aangelê’ as ‘n ander kind nie. Dit kom alles op taalonderdompeling en konsekwentheid neer. Elke kind is daartoe in staat om twee tale te leer. Die besluit lê egter by jou as ouer om jou kind tweetalig te wil groot maak en dit konsekwent in julle lewens toe te pas.

Terug na blog / Back to blog

Laat 'n kommentaar / Leave a comment