Die LEES-reeks: 2. ‘n Brein vir Lees

Die LEES-reeks: 2. ‘n Brein vir Lees

Waarom lees en skryf ons?

In die vroegste samelewings het groepies mense naby aan mekaar gewoon en kon die meeste kommunikasie via gesproke taal gebeur. Stories kon mondelings oorgedra word tussen generasies. Dinge was eenvoudiger, so ruiltransaksies kon ook sonder geskrewe kontrakte plaasvind.

Argeologiese data uit Mesopotamië (vandag bekend as Irak) dui daarop dat skrif op kleitablette sedert ongeveer 3,200 VC gebruik is om handeltransaksies oor groter afstande te vergemaklik. In die middeleeue kon slegs die elite behoorlik lees en skryf. Leesmateriaal was skaars, tot die drukpers se koms in die 1400s.  Teen die 1800s was die geletterdheidsvlakke in Engeland ongeveer 60% onder mans en 40% onder vroue.

Dinge het in die twintigste eeu sodanig versnel dat lees en skryf in die moderne samelewing bykans ‘n oorlewingsvaardigheid is! Ongelukkig is dit een waarmee baie kinders en volwassenes wêreldwyd sukkel (sien Artikel 1 in hierdie reeks).

Ons lees om te leer, maar ons lees ook vir plesier, vir inligting, om met ons geliefdes te kommunikeer, of vir geestelike verryking.

Maar hóé lees ons?

Lees = visuele inligting + gesproke taal

Wanneer ons lees, moet ons visuele inligting inneem en op ‘n manier prosesseer sodat ons dit kan verstaan as gesproke taal.

Visuele inligting en gesproke taal word afsonderlik en deur verskillende dele van ons breine verwerk.

  • Mense wat kan sien, se breine is in staat om visuele inligting, hetsy prentjies, woorde of tekens wat deur die oë waargeneem word, te verwerk.
  • Horende mense se breine is in staat om gesproke taal, 'n soort ouditiewe inligting, te verwerk. Babas is reeds meesters hiermee: ons leer van ‘n jong ouderdom af om betekenis uit gesproke taal in ons omgewing af te lei.

baby listening with ear

Babas se breine verwerk en ontleed gesproke taal

Beide bogenoemde breinfunksies is ingebore en ontwikkel by die meeste mense natuurlik. Maar lees verg ‘n paar addisionele stappe om die twee funksies saam te gebruik.

Dit bring ons dan by die vraag…

Leer kinders outomaties om te lees?

Sodra ons verstaan dat universele geletterdheid redelik onlangs die norm of ideaal geword het, en dat lees tegelelykertyd visuele inligting- en taalverwerking benodig, kan ons makliker begryp:

  • Lees is nie ‘n ingebore menslike vaardigheid nie.
  • Lees is nie ‘n eenvoudige taak vir ons breine nie.

Die meeste kinders het daarom duidelike en sistematiese onderrig nodig om vaardige lesers te word.  Vaardige lesers kan vlot lees, met begrip.

Kom ons kyk na die reeks aktiwiteite wat in die brein plaasvind wanneer ons met begrip lees. Al hierdie take is vaardighede wat met tyd aangeleer word, en waarvoor kinders ontwikkelingsgewys gereed moet wees.

Wat gebeur in my brein as ek lees?

Leeswetenskap (“The Science of Reading”) verwys na die navorsingsveld wat die onderwerp van lees, en die aanleer van lees, dek. Hierdie is ‘n area waar baie diverse studierigtings oorvleuel, insluitende neurologie, kognitiewe wetenskap, opvoedkunde, linguistiek en sielkunde.

Al die kenners is dit eens dat lees ‘n ingewikkelde proses is wat verskeie gedeeltes van ons breine inspan. Met die aanleerproses en deur gereeld te oefen om te lees, word nuwe paadjies en verbindings tussen betrokke areas van die brein gevestig.

Synapses in brain

Paadjies en verbindings in die brein

Om met begrip te lees, behels ‘n reeks take:

1. ‘n Geskrewe teks word sensories bestudeer, byvoorbeeld ons oë kyk na geskrewe simbole (letters, woorde en leestekens) in ‘n boek. Die brein ontvang die visuele inligting en stuur dit vir analise.

2. Die brein haal die simbole of letters in 'n woord uitmekaar en soek na die ooreenstemmende klanke en klankkombinasies uit ons gesproke taal. Die volgende stap is dan om bekende woorde uit die leser se gesproke taal by die betrokke klankkombinasies te pas. Hierdie proses word dekodering genoem.

Sekere woorde (visuele inligting) is danksy herhaalde blootstelling moontlik reeds bekend aan die leser, en hierdie sigwoorde kan dus as ‘n kortpad herken word sonder dekodering.

Die bogenoemde stappe bring ons by die woordherkenning-mylpaal. Woordherkenning word met genoeg oefening naderhand byna outomaties. 

Let wel: ‘n Mens kan teoreties vlot hardop leer lees en woorde korrek uitspreek sonder om te verstaan wat jy lees. Dalk kan jy na 'n bietjie oefening ‘n paar sinne hardop in Spaans of Pinyin Sjinees lees? Dus is woordherkenning net 'n deel van die resep vir vaardige lees met begrip.

3. 'n Vaardige leser se brein neem ook in ag hoe woorde saam in die betrokke sin of teks gebruik word, wat die konteks is, watter tipe teks dit is, en wat ons dalk vooraf oor die betrokke onderwerp weet. Soms moet ons afleidings maak oor wat die teks nie uitdruklik sê nie.

Ons brein pas logika, tesame met bestaande agtergrondkennis, woordeskat, kennis van taalstruktuur en bekendheid met tekste om betekenis te heg aan die inhoud wat gelees word.

Ons bring dus ons voorafgaande taalkennis na die proses toe om betekenis te vind, ten einde te help dat ons met begrip lees

4. Die bogenoemde proses herhaal aahoudend soos ons verder deur 'n teks vorder. Intussen is ons werkende geheue ook aan die gang om die inligting wat ‘n rukkie gelede is, te onthou, sodat alles saam sin maak.

Ons sal die bogenoemde take, wat almal belangrike boublokke van vaardige lees is, in die volgende artikel in hierdie reeks bespreek.

Waar in die brein “lees” ons?

Daar is fassinerende studies en breinbeelding wat wys hoe verskillende dele van die brein ophelder, en nuwe paadjies gevestig word tussen die breinareas, wanneer kinders leer lees. Hierdie tegnologie het navorsers ook al gehelp om agter te kom waarom party kinders sukkel om vlot en/of met begrip te leer lees.

Die onderstaande illustrasie kom uit ‘n artikel oor disleksie, geskryf deur spesialiste op die gebied van neurobiologie (Kearns, Devin, Hancock, 2019). Dit wys watter dele van die brein betrokke is met lees, met verskillende paaie vir woordherkenning via dekodering en sigwoorde. Dit verg baie oefening en herhaling vir die paadjies om gevestig te word.

Scientific journal image indicating the areas of the brain active during reading

Areas van die lesende brein (“Areas of the Reading Brain” - Kearns, Devin & Hancock, 2019)

Dis goed om te weet...

Sommige kinders kom vinniger reg as ander met die aanvanklike aanleer van lees. Party kinders blyk "vanself" lees te snap danksy blootstelling en/of “toevallige” leer, maar dit is die minderheid. 

Die meeste kinders het daarom duidelike en sistematiese onderrig nodig om vaardige lesers te word, en om seker te maak dat al die boublokke stewig in plek is.

Ander kinders vorder stadiger, of haak iewers langs die pad tydelik vas weens omstandighede. Aangesien lees linêer onderrig word op skool, kan kinders agter raak met lees indien hulle nie die ontbrekende vaardighede betyds ontwikkel nie - 'n agterstand wat hul algehele akademiese reis later sou kon beïnvloed.

Daar is wel goeie remediërende hulp beskikbaar vir kinders met leesuitdagings of kinders wat met 'n ernstiger toestand soos disleksie gediagnoseer word. Kenners kan help om te onderliggende gapings te identifiseer, en die regte strategie en leerprogramme bied wat, oor tyd, die bou van ontbrekende paadjies en verbindings sal ondersteun.

Maar lees is nie net ‘n onderwerp wat kinders raak nie.

Ons leer ook, selfs as volwassenes, voortdurend om te lees! Elke keer as ons ‘n nuwe tipe teks of ‘n artikel uit ‘n onbekende vakgebied optel, moet ons vertroud raak met die genre (die boublok van literêre kennis), die vaktaal (die boublok van woordeskat), en wyd nalees om te bou aan die agtergrondkennis wat die outeur van hul teikenleser verwag. Of, as ons ‘n nuwe taal aanleer, moet ons die klanke opnuut leer ken, tesame met die letterkombinasies wat die klanke voorstel, om woordherkenning te vestig. Ons kan ook afleidings oor betekenins maak uit ons voorafkennis of uit die konteks van omliggende woorde.

Om te lees is ‘n vaardigheid, vir baie mense ‘n plesier, en ‘n sleutel tot kennis en geleenthede. Dit is dus vir almal van waarde om te weet wat lees werklik behels, en waarna ons kan kyk wanneer ons ons kinders help om voor te berei om te leer lees – hetsy in een of meer tale.

In die res van hierdie LEES-reeks gaan ons kyk na:

  • Kritiese boublokke vir lees en geletterdheid;
  • Lees in meer as een taal, en wenke vir voorbereiding vir emigrasie; en
  • Stories van tweede-generasie Aussiekaners wat hulle kinders Afrikaans leer lees.

Intussen…

‘n Paar bronne en voorstelle vir verdere lees en luister:

  • The “Reading Brain” is Taught, Not Born: Evidence From the Evolving Neuroscience of Reading for Teachers and Society. Gotlieb, Reinhard, Wolf. The Reading League Journal, 2022.
  • The Neurobiology of Dyslexia. Kearns, Devin & Hancock, Roeland & Hoeft, Fumiko & Pugh, Kenneth & Frost, Stephen, 2019.
  • Reading in the Brain – The New Science of How We Read. Stanislas Dehaene, Penguin Books, 2010.
  • The Reading Universe Taxonomy. https://readinguniverse.org/taxonomy
  • Science of Reading: The Podcast (Amplify Education). Beskikbaar op Spotify, Apple en ander platforms.
Terug na blog / Back to blog

1 kommentaar / comment

Baie interessant,dankie.Ek dink die gesegde:“use it or loose it” maak sin.Ek vind dat ek langer vat om te verstaan wat ek lees en ook vind dit uitdagend om in my werk in gesondheid aan iemand mediese inligting te weergee in Afrikaans.
Dit sal interessant wees om jou opinie te hoor oor kinders wat Afrikaans is en dan moet vinnig Engels magtig moet raak met skool begin.My seun het op 4,5 jaar hier aangekom met Afrikaans as eerste tall,bietjie Engels.Die skool OT was van opinie dat hy leer probleme het ,maar ek het nie saamgestem nie.Vandag het hy Graad 12 after sy rug en op Tafe.

Erika

Laat 'n kommentaar / Leave a comment