Die LEES-reeks: 1. Lees - ‘n oorlewingsvaardigheid in die moderne wêreld
Share
Verbeel jou jy loop in ‘n supermark met ‘n inkopielysie. Jy gaan vanaand ‘n heerlike maaltyd aanmekaarslaan vir jou kuiergaste. Iemand het jou gehelp om ‘n nuwe resep op die Internet te vind, en het vir jou die bestanddele neergeskryf. Nou moet jy die 12 items op die winkelrakke soek, maar daar is een klein probleempie – jy kan nie goed genoeg lees om te ontsyfer wat die lysie sê, of wat elkeen van die meer obskure speserye op die rak is nie. En sterkte om dan nog later tuis die resep se instruksies tuis te kan volg!
Klink dit na ‘n onrealistiese scenario? In die moderne wêreld neem ons aan dat almal om ons gemaklik op ‘n hoë vlak kan lees - ons word immers oorlaai deur geskrewe materiaal en media! Maar al hoe meer studies dui daarop dat dit nie noodwendig die geval is nie.
Hierdie artikel kyk na die geletterdsheidsprentjie in Suid-Afrika en in Australië. In die daaropvolgende artikels gaan ons kers opsteek by kenners op die gebied van lees, breinwetenskap en die onderwys. Ons doel is om uit te vind wat die kritiese boublokke vir leessukses is, wat die wetenskap van lees ons leer oor breinontwikkeling onder kinders. Ons gaan ook hoor (akademies en prakties) hoe ons ons kinders tuis kan help leer lees – selfs ook in ‘n tweede taal!
Maatstawwe rondom leesvaardigheid
Elke vyf jaar neem graad 4-leerders regoor die wêreld deel aan ‘n leesassessering wat bekend staan as PIRLS (Progress in International Reading Literacy Study). Graad 4 word as ‘n mylpaaljaar beskou, aangesien dit die ouderdom is waar kinders gewoonlik oorskakel van die “leer om te lees”-fase na die deel van hul skoolloopbaan waar hulle moet kan lees om enigiets te kan leer. Dit wil sê, om te kan lees met begrip word na die grandslagfase op alle vakgbiede ‘n voorvereiste vir akademiese sukses.
Geletterdheid onder kinders in Suid-Afrika
Die jongste gepubliseerde PIRLS-resultate kom uit die 2021-assessering, wat bevind het dat 81% van alle Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders nie met begrip in enige taal kan lees nie. Dit beteken dat slegs 19% van Suid-Afrika se tienjariges kan verstaan wat hulle lees in enige taal, insluitende hul huistaal. Hierdie is ‘n verswakking sedert die 2016-studie se resultate, toe 78% van Graad 4’s nie met begrip in enige taal kon lees nie. Die verswakking word grootliks toegeskryf aan die effekte van die COVID-pandemie, maar is ook beduidend van diepgaande probleme in die land se onderwysstelsel.
Die situasie in Australië – kinders se leesvaardigheid
Volgens die 2021-PIRLS, lees 80% van Australiese Jaar 4-leerders vlot en met begrip, waaronder 14% op die “gevorderde” vlak en 34% op die “hoë” vlak toets. Dus sukkel 20% van die Jaar 4-leerders steeds in Australië om in enige taal met begrip te kan lees. Met hierdie uitslae lê Australië sewende op die wêreldranglys, onder Singapoer, Hong Kong, Engeland, die Russiese Federasie, Finland en Poland.
Die Australian Financial Review (AFR) het in November 2022 oor die jongste Jaar 9 NAPLAN- (National Assessment Program – Literacy and Numeracy) assesseringsuitslae berig. Twee uit elke vyf Australiese 15-jariges behaal nie die minimum leesstandaard wat deur die Organisasie vir Ekonomiese Ontwikkeling en Samewerking (OECD) se Internasionale Studentassessering gestel word nie. Verder was 20% van Australië se Jaar 9-seuns in 2022 funksioneel ongeletterd! Volgens die AFR verswak hierdie uitslae jaarliks, en dit raak ‘n groter probleem vir werkgewers wanneer dié kinders die arbeidsmag betree.
‘n Liefde vir lees
Die 2021-PIRLS het Jaar 4-leerders uitgevra oor hulle gesindheid teenoor lees. Byna 30% van die Australiese Jaar 4-toetsgroep het geantwoord dat hulle baie daarvan hou om te lees. Die res hou ietwat daarvan (45%) of glad nie van lees nie (26%).
Daar was ’n duidelike verband tussen ‘n liefde vir lees en leessukses tydens die studie. Een van die hoofbevindinge van die studie is dus dat ‘n sterk positiewe gesindheid teenoor lees deel uitmaak van die fondasie vir leerders se akademiese vordering en sukses in die toekoms.
Die stigma rondom volwasse (on)geletterdheid
Ons het vroeër in hierdie artikel gesien dat baie kinders wêreldwyd op Jaar 4-vlak en op Jaar 9-vlak met lees sukkel. Ongelukkig verdwyn leesprobleme nie outomaties wanneer ‘n mens 18 word nie. Inteendeel, volgens ‘n studie deur die Australiese Statistiekburo (ABS), lê 13% van Australiese volwassenes op die laagste geletterdheidsvlak, d.w.s. onder Jaar 6-leesvermoë.
Volwasse geletterdheid het ook onlangs onder die kollig gekom toe die Australiese realiteitsreeks “Lost for Words” op SBS uitgesaai is. Elke seisoen van hierdie reeks volg agt doodgewone Aussies wat ‘n 9-weke lange volwasse geletterdheidsprogram bywoon, ten einde die uitdagings wat met beperkte leesvermoë gepaard gaan, te probeer oorkom. Een van die mans op die program kon nie die openbare vervoerstelsel gebruik nie. 'n Mamma het aan die begin van die reeks nie genoeg selfvertroue gehad om vir haar kinders 'n storie te lees met slaaptyd nie. Nog 'n deelnemer wou beter leer lees, sodat hy in 'n restaurant die spyskaart kan ontsyfer en vir sy vrou iets lekkers kan bestel.
Daar is ‘n algemene wanpersepsie dat slegs nuwe immigrante sukkel om Engels te lees. Die Australiese Reading Writing Hotline se statistiek meld egter dat 68% van die oproepe wat hulle in 2020 beantwoord het, geplaas is deur Australies-gebore volwassenes uit Engelssprekende huishoudings.
So waarom sukkel so baie volwassenes in ‘n ontwikkelde land soos Australië met lees?
Die antwoord het deels te doen met hóé leesonderrig op skool plaasvind. Leesonderrig word in die klaskamer redelik lineêr aangepak, waar elke fase van die leerproses bou op vorige fases se inligting en uitkomste. So as jy agter raak, is jy in die moeilikheid - tensy daar betyds ingegryp word in die klaskamer, of via na-uurse remediërende onderrig.
Navorsing toon dat gebeure in ‘n kind se lewe tussen die ouderdomme van 5 en 9 jaar dikwels ‘n groot rol speel in hoe suksesvol kinders leer lees. Dinge soos familieverbrokkeling, lang afwesigheid agv siekte of ander persoonlike redes, sig- of gehoorprobleme, leerprobleme, trauma, armoede, of ouers met lae geletterdheidsvlakke, dra ongelukkig dikwels daartoe by dat kinders stadig vorder met die aanleer van lees. In baie gevalle word probleme afgemaak as iets wat vanself sal regkom, so daar word nie betyds ingegryp nie, en dan raak kinders so ver agter dat hul nooit weer by hul klasmaats kan opvang nie.
Vooruitsig
Hierdie artikel is nie daarop gemik om ons bang te maak nie, maar dit is altyd goed om te weet waarna ons kan oplet wanneer ons kinders hierdie belangrike vaardigheid aanleer.
So – hoe kan ek my kind help om met begrip te kan lees, ten einde sukses op skool en in die samelewing te behaal? En wat is die beste strategie om vir hulle tuis te help om dalk ook in Afrikaans, of 'n ander taal, te leer lees?
Volg gerus hierdie reeks blogartikels deur Boekwurm, waarin ons die volgende onderwerpe gaan dek:
- Hoe ons breine lees;
- Kritiese boublokke vir lees en geletterdheid;
- Lees in meer as een taal, en voorbereiding vir emigrasie; en
- Stories van tweede-generasie Aussiekaners wat hulle kinders Afrikaans leer lees.
Bronne:
- “Employers are being forced to teach reading and writing: BCA”, Australian Financial Review, Mar 6, 2023
- Julle kan die reeks "Lost for Words" via SBS se stroomdiens kyk: https://www.sbs.com.au/ondemand/tv-series/lost-for-words
- https://ala.asn.au/stories/australias-adult-literacy-crisis/
- ABS se 2013- studie rondom volwasse leesvaardigheid: https://www.stylemanual.gov.au/accessible-and-inclusive-content/literacy-and-access
- https://www.sbs.com.au/voices/article/how-we-can-improve-adult-literacy/1c3wh4lxe
- PIRLS-uitslae en verslae: https://www.acer.org/in/pirls
- NAPLAN results: literacy results among year 9 boys forces us to find out what is going on in the classroom (afr.com)
- Moedertaaldag en die belangrikheid om te lees | Maroela Media
- Reading Writing Hotline: https://www.readingwritinghotline.edu.au/
1 kommentaar / comment
Sien baie uit na die toekomstige blog:
Lees in meer as een taal, en voorbereiding vir emigrasie;
en
Stories van tweede-generasie Aussiekaners wat hulle kinders Afrikaans leer lees.